Oueromsendbrief 17 van 2018

Geagte Ouers

BEHEERLIGGAAM
Baie geluk aan Mnr Braam van Dyk wat tot die skool se beheerliggaam verkies is. Ons wens u sterkte toe vir die groot taak op hande.

GRAAD R-OPEDAG
Op 15 Junie 2018, sal daar ’n opedag in die skoolsaal wees vanaf 10:00-12:00. Bring asseblief u kind saam.

FONDSINSAMELING: JAGKAARTJIES
Kaartjies is tans by u kind se klas te koop teen R100-00 ‘n kaartjie. ‘n Jagpakket ter waarde van R15 000 kan gewen word. Die trekking vind plaas op 18 Junie 2018 in die skoolsaal om 18:00 en troospryse sal getrek word vir die wat teenwoordig is. Die persoon wat die kompetisie wen, hoef nie noodwendig by die trekking teenwoordig te wees nie. Baie dankie vir u ondersteuning. Elke klas het 10 kaartjies ontvang. Indien ‘n klas al hulle kaartjies verkoop, mag hulle ‘n Vrydag om 10:00 huis toe gaan.

RUGBY: VALKE
Baie sterkte aan JP Roberts, Dane Beytell en DW Pelser wat dié naweek in Pretoria by Loftus vir die Valkespan gaan speel.

RUGBY
Baie geluk aan al die rugbyspanne wat die 17de Mei 2018, teen Fonteine gewen het.

SERPE
Daar is serpe vir leerders te koop. Dit is swart of rooi met ‘DF’ daarop geborduur teen R30. Voorbeelde is in die kantoor te sien. Skakel vir Ronel Groenewald by 078 504 9551.

MINI-NETBALDAG
26 Mei 2018 – DF Malherbe

ROOIKOMBUIS
Die Rooikombuis sal van die komende Vrydag, 25 Mei 2018, sop en brood verkoop teen R20 per koppie. Dit geld net vir die winter en sal net op bestelling wees.

NETBAL
Elke netbalspeler wat netbalklere ontvang het, moet R100 deposito by hul afrigters betaal. Daar sal aan die einde van die netbalseisoen R50 teruggegee word.

SKAAK
Enige leerder met skaakkennis mag aan die Sedibengwedstryde deelneem. Alle inligting is by www.sedchess.co.za beskikbaar. Sedibeng kleure kan so verwerf word.
Almal kan reeds begin oefen vir die volgende skaakseisoen.

SKAAK 0/9
Skaakoefening vir 0/9 leerders van Graad 1 en 2 wat saam met die Graad 3’s geoefen het, kan weer kom inskakel.
Woensdag, 30 Mei 2018
Woensdag, 06 Junie 2018
Tye: 13:15 tot 14:00
Klaskamer: 52

Elvis Blue!!! Donderdag, 23 Augutus 2018
Die Graad 5‘s bied aan: Elvis Blue!!! Donderdag, 23 Augutus 2018. 18:30. Kompasgemeente. R150 per kaartjie. Kaartjies sal vanaf volgende week te koop wees by: Laerskool DF Malherbe. Elvis gaan ook saam met 2 skoolkore optree. Ook saam met DF se skoolkoor. Kom ondersteun asseblief die projek!!

KUNSTEFEES
Die leerders wat gekies is vir die kunstefees, het reeds briefies van hul afrigters ontvang. Leerders wat nog wil deelneem, kan privaat ingeskryf word by Mev A Hoy. U moet dan ‘n e-pos stuur aan Ahoy23484438@gmail.com. Sy sal al die inligting en kostes met u uitklaar en inskrywings doen.

KUNSKOMPETISIE
Aandag alle ouers, oumas, oupas en leerders. Skryf in vir die Rotary “Children for Children” kunskompetisie. Elke inskrywing beloop R10. Bronwyn Rossouw in Gr 7H het in 2017 ‘n derde plek uit ±1000 inskrywings verower. Kom ons vat hande, skryf in en wen groot.

GRAAD 3-FONDSINSAMELINGSPROJEK : DIE MEELBOMKOMPETISIE
Kom kyk hoe spat die meelbom op jou nommer en wen R 10 000.00.Trekking vind plaas op Vrydag, 21 September 2018, om 13h30 op die rugbyveld. Eerste prys is R 10 000.00, tweede prys is R 5000.00 en die derde prys is R 2000.00. Kaartjies is slegs R 100.00 elk. Kompetisie word geloods by DF se mini-netbal- en- rugbydag op 26 Mei 2018. Kyk uit vir ons gazebo’s en kom ondersteun die graad 3’s. Daarna sal kaartjies beskikbaar wees by alle graad 3-leerders of ouers.

 

“Die eerste geskenk van geluk is die dankbaarheid van die hart.” -Jörg Zink-